Die donkie ís ’n wonderlike ding
12/01/2009 04:48:25 PM - (SA)
Die Burger Buite

“O, die donkie, o, die donkie, die donkie is ’n wonderlike ding.”

Donkies is nie dom, steeks of halsstarrig nie. Hulle is baie sosiale diere; en as hulle saam met die regte donkiemaatjies werk, gaan alles klopdisselboom.

Is ons nie maar almal so nie?

By Calitzdorp is ’n nuwe staproete, met donkies. Maar dit is nie jou gewone studente-T&T- (Tassies en Toppers) stap nie. O, nee, dit is van vyfstergehalte, met bed en ontbyt en middagete en aandete. Jy moet wel nog een voet voor die ander sit, maar die res word vir jou gedoen.

Die staproete volg een van die ou donkieroetes wat gebruik is om in en uit die Hel te kom. In 1962 is die pad gebou wat die Kloof met die buitewêreld verbind het. Daarna het die Kloof leeggeloop, en vandag is dit ’n natuurreservaat.

Vrydagmiddag om vyfuur klok ons in by Hans en Erika Calitz op hul plaas, Living Waters, naby Calitzdorp. Dit is amper in Oudtshoorn. As jy uit die Kaap uit ry, moet jy dus maar vroeg wikkel. Voorsiening word gemaak vir net agt gaste per stap.

Ons elkeen kry ’n klein groen seilknapsak, waarin jy jou goetertjies moet pak wat jy op die berg gaan nodig kry. Die donkies dra dit vir jou op; maar as jy iets in die sak sit wat jy die tweede aand gaan nodig kry, sal jy dit die tweede dag self moet dra.

Die donkies stap net die eerste dag saam, dan kom hulle terug plaas toe. Die res van jou goed word vir jou Hel toe gery met ’n bussie. Jy kan dus die Sondag-middag weer skoon klere aantrek.

Saterdagoggend vroeg eet ons ’n stewige ontbyt. Die donkies word gepak, en ons sleep die berg op. Dit is steil, en die son wikkel ons teen die suidelike hange van die Swartberge. Daar is een sterk stroompie waar ons die water-bottels volmaak.

Met middagete kry ons elkeen ’n oulike blou Tupperware-kosblik met afskortings. Binne-in is die lekkerste boerbrood, frikkadelle, eiers en ander njammie goed.

Ons vat weer die pad Wyenek toe. Nêrens hoef jy te klim nie, net stap en stap die steiltes uit.

Daar is op die eerste dag net plek-plek selfoon-ontvangs, maar die gidse dra tweerigtingradio's en ’n satellietfoon. As daar ’n noodgeval is, kan ’n helikopter dus ontbied word.

Teen drie-uur staan ons bo-op die berg. Daar wag ’n vyfster-tentkamp vir ons. Dit gee my nogal daardie koloniale-omie-in-’n-wit-safaripak-gevoel. Eers was ons in ’n lekker bergpoel die sweet af, terwyl ons vir die bier wag om in die rivier af te koel.

As jy ’n vrees vir koel bergwater het, is daar die warm water en waskommetjie as moontlikheid.

Dit word baie koud bo-op die berg, maar gelukkig het my eseltjie vir my ’n warm baadjie en langbroek opgedra.

Vroeg die oggend stap ek die koue, nat veld in. Toe die son sy kop uitsteek, bring Malcolm (een van ons gidse) my die allerbeste vuurwarm cappuccino wat ek daar onder Koffieklip sit en drink.

’n Donkie is meer soos ’n hond en nie soos ’n kat nie. ’n Donkie soek mensgeselskap.

Die donkies wat gebruik word, is weggeneem by mense wat hulle mishandel het. Op die plaas Living Waters is hulle met groot liefde gedokter en gerehabiliteer.

Mense word ook so op die plaas gehelp – vandaar die naam: Living Waters.

Na ontbyt keer die donkies terug na die beginpunt met ons vuil klere en goed. Ons stap verder in die rigting van die die Hel.

Skielik kyk jy af in die Gamkaskloof – die Hel. Onder in die kloof lê ’n dik pofadder van soetdorings wat al langs die rivier kronkel.

Daar word van hierdie plek gesê: "Dit is in die Hel waar jy God ontdek. Dit is in die Hel waar jy jouself ontdek."

In die gloriedae van die Kloof is daar selfs ’n kar in stukke gemaak en met die hulp van donkies die Hel in gedra. Daar is dit weer aanmekaargesit en gebruik om die 20 km lange kloof op en af te ry. Miskien is dit waar ons motorindustrie begin het.

Die gidse wys plante uit en vertel ons van hul gebruike. Ek is sommer trots op my taal as die gidse dit so mooi praat. Suiwer, sonder Engelse woorde. Ai, as my kinders maar so kon Afrikaans praat.

Die Sondagnag slaap ons in die skoolmeester se huis, wat in 1938 gebou is. Dit is reg langs die skool, waar tot 1960 kinders skoolgegaan het.

Cape Nature het tien ou plaashuise in die kloof baie mooi gerestoureer, en ’n mens kan nou daarin oornag.

Die nag is weer stil – baie stil en donker. Sterre? Ja, daar is sterre in die Hel. Baie, vreeslik baie.

Die aand eet ons braaivleis en baie ander vars goed, en drink ons goeie rooiwyn. Ons sit lank om die kampvuur, soos ’n mens maar altyd maak as die lekker begin uitloop.

Maandagoggend ry ons terug na die beginpunt met ’n netjiese nuwe Volkswagen Transporter-negesitplek- 4x4-bussie. Met sononder is ons terug in die Kaap.

Vir Hans en Erika Calitz, wat die plaas Living Waters besit en die roete ontwikkel het, is dit ’n droom wat waar geword het. Hierdie is net een van hul projekte om die plaaslike gemeenskap te ontwikkel. ’n Aantal plaaslike mans het al ’n gids- en noodhulp-kursus voltooi en werk as gidse en donkiehanteerders.

Gaan ontmoet dus die donkies: Buddy, Goldie, Thyme, Marmite, Sophy, Taxi, Natal en Mijas, en gee hulle ’n drukkie van my af. Dit is nie ’n staproete vir gewone studente nie. Nee, hierdie nuwe een in die Gamkaskloof se Hel is van vyfstergehalte terwyl die donkies jou vrag dra, skryf -STEPHAN THERON.

DIE KERNFEITE:

Wat jy moet weet

Die donkie-stap kos R2 500 per persoon. Nee wag nou, hou vas, kyk weer mooi wat jy vir die prys kry. Verder word al die geld wat oorbly, gebruik om die gemeenskap op te hef.

Waar jy slaap

Vrydag: in 'n gastehuis op 'n normale bed op die plaas Living Waters.
Saterdag: Op die berg in 'n stewige dik seiltent op 'n kampbedjie in 'n warm slaapsak.
Sondag: In 'n gerestoureerde plaashuis op 'n bed in die Hel.

Wat jy moet saambring

Stapgoed soos skoene en 'n hoed. 'n Warm baadjie vir bo-op die berg. Sandale soos crocs. 'n Klein rugsak.

Kos

Alles word voorsien en is net van die beste.

Hoogtepunte

Die donkies. Die uitsig bo-op die berg. Die gidse en stappers wat jy ontmoet. Die geskiedenis van die roete en die kloof.

Stap

Saterdag: Bergop, steil en 'n bietjie moeilik - agt uur.
Sondag: Rustiger, vier uur anderkant af die Hel in.

• Meer inligting en besprekings: www.donkeytrail.com

Back to home

Copyright © 2017  ::  The Donkey Trail  •  Site by:  WebWorX