|
Ek is nie ’n dapper stapper nie. Die idee van droogbevrore maalvleis laat my tot
in my kleintoontjie ril en ek soek privaatheid wanneer ek die kleinhuisie moet besoek.
Groot sakke wat my soos Quasimodo van Notre Dame teen berghange
laat opbeur, is ook taboe in my boekie.
Maar ek is ’n geesdriftige stapper,
hoewel my onvermoë om vir ’n aand of twee sonder spoeltoilette,
ordentlike warm kos en warm water klaar te kom my tot dusver tot
dagroetes en teerpaaie beperk het.
Die Living Waters-span en Kaapse
Natuurbewaring se Donkieroete bied egter die antwoord vir slackpackers
soos ek (lees: diegene wat hou van porselein onder hul agterstewe,
ordentlike aandetes en ’n tent en bed wat met jou aankoms
by die oornagplek vir jou wag).
Die Donkieroete begin by die Living
Waters-landgoed net buitekant Calitzdorp en kronkel oor die
Swartberge, waar dit in die Gamkaskloof (ook bekend as Die Hel)
eindig.
Dit volg die oorspronklike roete wat die ou Gamkasklowers na “buite”
gestap het, voor daar in 1962 ’n pad na Die Hel gebou is.
As jy vóór
die pad gekom het uit Die Hel wou kom, moes jy oor die berge klouter soos Hansie Slim.
Met ons aankoms by die Living Waters-landgoed word ons verwelkom met Erika en Hans Calitz se
Karoo-gasvryheid. Wyn, bier en koeldrank maak dadelik hul verskyning, gevolg deur
die eerste van ’n reeks kospotte van Egipte.
Moenie eers dink jy gaan hier ’n asketiese bestaan voer van energiestafies
en bergwater nie. Dié mense het ander planne met jou heupomtrek.
Hier gaan dit oor die goeie lewe. Lekker wyn, keurige port, vars
berglug en ’n vriendelike Karoomoeder wat jou aanhits om ’n derde porsie op te skep . . .
“Julle stadmeisies het sulke dun beentjies. Toe, kry bietjie vleis aan
jul lyfies,” sê Erika, waarna sy ’n reusestuk tuisgebakte kaaskoek, gevolg
deur amandel-biscotti en vars gebroude koffie op die tafel neersit.
“Douvoordag” bestaan nie in die Calitze se woordeskat nie. Ons begin
kort voor nege stap, wat ons kans gee om ’n goeie Boereontbyt te
eet en te kyk hoe Buddy en Goldie,
|

ons donkieportiere, met ons bagasie opgesaal word.
Donkies lê vir Hans en Erika baie na aan die hart en hul landgoed het
ook ’n soort aftreeoord vir mishandelde en bejaarde donkies geword.
Al die donkies word
nie as portiere ingespan nie, omdat daar gewoonlik net twee donkies op ’n staptog
saamgevat word. Hulle is ook baie streng oor die hoeveelheid bagasie wat op elke
donkie toegelaat word.
Die sakke is maar baie knus en jy moet jou
warm baadjie mooi oprol om seker te maak dit pas in. Elke stapper word net 5 kg bagasie
toegelaat.
Alles wat jy deur die dag benodig, soos water, sonbrandroom, jou kamera
en peuselhappies, word in jou dagsak gedra. Die eerste dag stap ons ongeveer
13 km, meestal opdraande.
Daar is ’n gids wat agter die stadigste lid
van die groep loop om seker te maak hy kom veilig by die oornagkamp
aan. Die staproete sigsag deur fynbos, renosterveld en Karoo-vetplante en
deurkruis klowe waardeur bergstroompies kabbel.
Kaapse Natuurbewaring se gidse wys vir ons interessante fynbossoorte en tipiese Karoo-plante soos
botter- en spekbome.
Daar word gereeld gerus. By ’n helder bergpoel maak almal lyf nat
in silwerskoon bergwater. Vir middagete stop ons weer by ’n bergstroompie
vir varsgebakte plaastoebroodjies. Daarna volg die moeilike deel: die
|
Wyenek-pas, wat 1 500 m bo seespieël is. Die pas moet uitgeklouter
word om bo-op die plato van die Swartberge te kom. “Vat jul tyd,” is Hans se raad.
“Dit is nie ’n wedren nie.”
Aan die bokant van die Wyenekpas kyk jy uit oor ongerepte
wildernisgebied. As jy eers bo is, is dit ongeveer ’n halfuur se stap na die
kamp.
Seiltente met sjampoe, seep, flitse, linne en ’n houer warm water is
reeds opgeslaan deur personeel van Living Waters, wat die dag voor die
tyd alles regmaak vir die stappers. Die hoogtepunt van die tog was die plonspoele bo-op die
berg.
Die kristalhelder water is yskoud, amper soos die Weskus se seewater,
maar verfrissend op ’n warm, sweterige lyf. Die toilet is ’n wonder op sy eie:
eko-vriendelik, sindelik, skoon en met seker die beste uitsig in Suid-
Afrika.
Die volgende dag is dit weer bergaf, ’n tog wat Hans as “maklik” beskou.
My swak knieë, wat reeds eenkeer onder die mes was, en ’n jammerlike tekort aan balans het die
tweede dag se stap vir my moeiliker gemaak.
Toe Erika se span by die pad regstaan
met koeldrank en bier, het ek gekies om Die Hel liewer in ’n lugverkoelde
bussie binne te gaan. Die res van die stappers het die roete te voet voltooi.
In Die Hel bly ons in die oorspronklike inwoners se gerestoureerde huisies.
Kaapse Natuurbewaring het dit so na aan die oorspronklike weergawes as moontlik
probeer hou, maar soos Erika Swanepoel van dié organisasie dit stel:
“Ons kon nie ons gaste na ’n long drop verwys nie.”
Al die huisies is dus toegerus met ’n en suite-badkamer. Die aand is daar weer onder die
sterre gekuier, met Karoo-braaivleis en slaai vir aandete.
Daar is baie teorieë oor hoekom die stukkie paradys Die Hel genoem
is. Sommige sê dat dit in die Gamkaskloof so warm soos die hel
word. Ander meen dit verwys na die hellings van die berge rondom
die vallei.
Wie ook al dié naam uitgedink het, was maar baie stief teenoor die
plekkie. Vir my was dit hemel op die platteland.
• Carla Lewis is ’n redaksielid
van Beeld en het die Donkieroete op
uitnodiging meegemaak.
|
| Kortliks |
|
Die roete
Die roete is ongeveer 26 km
lank as jy dit van begin tot
einde stap. Die eerste dag
stap jy 13 km, met die Wyenekpas
as die hoogste piek.
Die tweede dag stap jy weer
13 km, maar het ook ’n keuse
om die laaste 5 km na Die Hel
in ’n bussie af te lê.
Moet ek fiks wees?
Ten spyte van al die luukses
wat op die staptoer aangebied
word, bly dit steeds ’n staptoer
met lang afstande en
strawwe opdraandes As jy gereeld
draf of in die gimnasium
oefen en taamlik fiks is, sal jy
die roete kan stap. Mense met
knieprobleme mag dalk die
tweede dag sukkel.
Wat word alles ingesluit?
Drie etes ’n dag, drankies, linne,
vervoer, donkieportiere,
gidse, handdoeke, wasgeriewe,
’n nag se verblyf by die
Living Waterslandgoed,
’n
nag se verblyf by die bergkamp
in die Swartberge en ’n
nag se verblyf in Die Hel.
Geldsake?
R2 500 per persoon
Kontak
Erika Calitz by 083 628 9394
of stuur vir haar ’n epos
aan
info@donkeytrail.com
|
|