Beeld PLUS Bylae - Saterdag 28 Maart 2009

Ek is nie ’n dapper stapper nie. Die idee van droogbevrore maalvleis laat my tot in my kleintoontjie ril en ek soek privaatheid wanneer ek die kleinhuisie moet besoek. Groot sakke wat my soos Quasimodo van Notre Dame teen berghange laat opbeur, is ook taboe in my boekie.
   Maar ek is ’n geesdriftige stapper, hoewel my onvermoö om vir ’n aand of twee sonder spoeltoilette, ordentlike warm kos en warm water klaar te kom my tot dusver tot dagroetes en teerpaaie beperk het.
   Die Living Waters-span en Kaapse Natuurbewaring se Donkieroete bied egter die antwoord vir slackpackers soos ek (lees: diegene wat hou van porselein onder hul agterstewe, ordentlike aandetes en ’n tent en bed wat met jou aankoms by die oornagplek vir jou wag).
   Die Donkieroete begin by die Living Waters-landgoed net buitekant Calitzdorp en kronkel oor die Swartberge, waar dit in die Gamkaskloof (ook bekend as Die Hel) eindig.
   Dit volg die oorspronklike roete wat die ou Gamkasklowers na “buite” gestap het, voor daar in 1962 ’n pad na Die Hel gebou is.
   As jy vóór die pad gekom het uit Die Hel wou kom, moes jy oor die berge klouter soos Hansie Slim.
   Met ons aankoms by die Living Waters-landgoed word ons verwelkom met Erika en Hans Calitz se Karoo-gasvryheid. Wyn, bier en koeldrank maak dadelik hul verskyning, gevolg deur die eerste van ’n reeks kospotte van Egipte.
   Moenie eers dink jy gaan hier ’n asketiese bestaan voer van energiestafies en bergwater nie. Dié mense het ander planne met jou heupomtrek.
   Hier gaan dit oor die goeie lewe. Lekker wyn, keurige port, vars berglug en ’n vriendelike Karoomoeder wat jou aanhits om ’n derde porsie op te skep…
   “Julle stadmeisies het sulke dun beentjies. Toe, kry bietjie vleis aan jul lyfies,” sê Erika, waarna sy ’n reusestuk tuisgebakte kaaskoek, gevolg deur amandel-biscotti en vars gebroude koffie op die tafel neersit.
   “Douvoordag” bestaan nie in die Calitze se woordeskat nie. Ons begin kort voor nege stap, wat ons kans gee om ’n goeie Boereontbyt te eet en te kyk hoe Buddy en Goldie,
  


ons donkieportiere, met ons bagasie opgesaal word. Donkies lê vir Hans en Erika baie na aan die hart en hul landgoed het ook ’n soort aftreeoord vir mishandelde en bejaarde donkies geword.
   Al die donkies word nie as portiere ingespan nie, omdat daar gewoonlik net twee donkies op ’n staptog saamgevat word. Hulle is ook baie streng oor die hoeveelheid bagasie wat op elke donkie toegelaat word.
   Die sakke is maar baie knus en jy moet jou warm baadjie mooi oprol om seker te maak dit pas in. Elke stapper word net 5 kg bagasie toegelaat.
   Alles wat jy deur die dag benodig, soos water, sonbrandroom, jou kamera en peuselhappies, word in jou dagsak gedra. Die eerste dag stap ons ongeveer 13 km, meestal opdraande.
   Daar is ’n gids wat agter die stadigste lid van die groep loop om seker te maak hy kom veilig by die oornagkamp aan. Die staproete sigsag deur fynbos, renosterveld en Karoo-vetplante en deurkruis klowe waardeur bergstroompies kabbel.
   Kaapse Natuurbewaring se gidse wys vir ons interessante fynbossoorte en tipiese Karoo-plante soos botter- en spekbome.
   Daar word gereeld gerus. By ’n helder bergpoel maak almal lyf nat in silwerskoon bergwater. Vir middagete stop ons weer by ’n bergstroompie vir varsgebakte plaastoebroodjies. Daarna volg die moeilike deel: die

Wyenek-pas, wat 1 500 m bo seespieöl is. Die pas moet uitgeklouter word om bo-op die plato van die Swartberge te kom. “Vat jul tyd,” is Hans se raad. “Dit is nie ’n wedren nie.”
   Aan die bokant van die Wyenekpas kyk jy uit oor ongerepte wildernisgebied. As jy eers bo is, is dit ongeveer ’n halfuur se stap na die kamp.
   Seiltente met sjampoe, seep, flitse, linne en ’n houer warm water is reeds opgeslaan deur personeel van Living Waters, wat die dag voor die tyd alles regmaak vir die stappers. Die hoogtepunt van die tog was die plonspoele bo-op die berg.
   Die kristalhelder water is yskoud, amper soos die Weskus se seewater, maar verfrissend op ’n warm, sweterige lyf. Die toilet is ’n wonder op sy eie: eko-vriendelik, sindelik, skoon en met seker die beste uitsig in Suid- Afrika.
   Die volgende dag is dit weer bergaf, ’n tog wat Hans as “maklik” beskou. My swak knieö, wat reeds eenkeer onder die mes was, en ’n jammerlike tekort aan balans het die tweede dag se stap vir my moeiliker gemaak.
   Toe Erika se span by die pad regstaan met koeldrank en bier, het ek gekies om Die Hel liewer in ’n lugverkoelde bussie binne te gaan. Die res van die stappers het die roete te voet voltooi.
   In Die Hel bly ons in die oorspronklike inwoners se gerestoureerde huisies. Kaapse Natuurbewaring het dit so na aan die oorspronklike weergawes as moontlik probeer hou, maar soos Erika Swanepoel van dié organisasie dit stel:
   “Ons kon nie ons gaste na ’n long drop verwys nie.” Al die huisies is dus toegerus met ’n en suite-badkamer. Die aand is daar weer onder die sterre gekuier, met Karoo-braaivleis en slaai vir aandete.
   Daar is baie teorieö oor hoekom die stukkie paradys Die Hel genoem is. Sommige sê dat dit in die Gamkaskloof so warm soos die hel word. Ander meen dit verwys na die hellings van die berge rondom die vallei.
   Wie ook al dié naam uitgedink het, was maar baie stief teenoor die plekkie. Vir my was dit hemel op die platteland.

• Carla Lewis is ’n redaksielid van Beeld en het die Donkieroete op uitnodiging meegemaak.

Kortliks

Die roete
Die roete is ongeveer 26 km lank as jy dit van begin tot einde stap. Die eerste dag stap jy 13 km, met die Wyenekpas as die hoogste piek. Die tweede dag stap jy weer 13 km, maar het ook ’n keuse om die laaste 5 km na Die Hel in ’n bussie af te lê.

Moet ek fiks wees?
Ten spyte van al die luukses wat op die staptoer aangebied word, bly dit steeds ’n staptoer met lang afstande en strawwe opdraandes As jy gereeld draf of in die gimnasium oefen en taamlik fiks is, sal jy die roete kan stap. Mense met knieprobleme mag dalk die tweede dag sukkel.

Wat word alles ingesluit?
Drie etes ’n dag, drankies, linne, vervoer, donkieportiere, gidse, handdoeke, wasgeriewe, ’n nag se verblyf by die Living Waterslandgoed, ’n nag se verblyf by die bergkamp in die Swartberge en ’n nag se verblyf in Die Hel.

Geldsake?
R2 500 per persoon

Kontak
Erika Calitz by 083 628 9394 of stuur vir haar ’n epos aan info@donkeytrail.com

Back to home

Copyright © 2017  ::  The Donkey Trail  •  Site by:  WebWorX